Die reis begin hier
Daar is 'n wêreld wat wag
Hier is die plek waar ek treetjie vir treetjie my gedagtes met jou deel – soms soos ‘n trapsuutjie wat versigtig ‘n saak vanuit alle rigtings bekyk voordat sy haar pootjie sekuur neersit, soms soos ‘n dawerende brander wat uitbundig teen die rotse wil breek.
Stories is in my DNS verweef. Kom saam – dis ‘n reis in die onvolmaakte, mooi van die lewe, gemaak om ontdek ten oor nagedink te word.
Elke tree bring my nader aan God, ander en myself. Van die pragtigste natuurlandskappe tot die klein oomblikke van vrede, elke ervaring is ‘n uitnodiging om nie net te reis nie, maar om ook te groei terwyl die wêreld een tree op ‘n slag verken word.
Oor Skribbelstap
‘n Blog was nog altyd my “Eendag as ek…”-droom.
As iemand met redelik baie en soms uiteenlopende belangstellings, was dit egter ietwat van ‘n uitdaging om iets te vind wat ‘n paar van my belangstellings kombineer. Kies tog net een, of hoe? En begin net. Skryf!
Hoekom het ek nog nie, sal jy dalk vra. Ek moet my skouers ophaal. Sug. Perfeksionisme, gevreesde “imposter-sindroom”, die alewige interne teksredakteur wat wenkbrou gelig oor my skouer loer, die gejaagdheid van te veel ander dinge hê om te doen soos Emma-grootmaak, vrouwees-vir-Albertus, wat eet ons vanaand, ‘n loopbaan met interessante wendings wat heel selfsugtig en verwaand baie ure eis. Ken jy dit ook? Voel dit soms ook vir jou of jy al te gereeld aan daai “ek-het-te-veel-tabs-oop-in-my-brein”-gevoel ly?
En so het die tyd aangestap sonder dat ek ooit ‘n daadwerklike poging aangewend het.
Die oproep na die Machu Picchu-reis het my egter genoop om aksie te neem. In my eerste-ooit “vision board” van laas jaar pryk daar baie duidelik en sonder enige dubbelsinnigheid: blog.
Die woord, “blog”, is prominent en intensioneel so gekies. Teen die einde van 2023 het ek ervaar hoe die Here sê dat ek ‘n blog moet skryf. Tussen nou en toe lê daar baie worsteling oor wat die onderwerp van my blog moet wees, waarop ek moet fokus, wat my invalshoek moet wees… Ja-ja, ek oordink dit, hopeloos te veel! Tog, die afgelope ruk daag die Here my nogal uit met “radical obedience” – sal ek doen wat Hy vra selfs al maak dit nie sin nie, selfs al is dit vir my moeilik, selfs al verg dit dapperheid en “slaan-jou-naam-met-’n-plank” oomblikke?
“Toe hoor ek die stem van my Heer wat sê: ‘Wie sal Ek stuur en wie sal vir ons gaan?’ Ek sê toe: ‘Hier is ek, stuur my!’” (Jes. 6:8)
Nou toe. Machu Picchu wink en in voorbereiding vir hierdie pelgrimstog sien Skribbelstap die lig. Ek waag die sprong om my eerste skribbels in die kuberruim te plaas. Dit word nie met ‘n gejuig uitgebasuin en na die uithoeke van die internet gejaag nie, nee, veel eerder kom lê ek van my los gedagtes sagkens neer in my kleinplasie hier in die kuberruim. Dit sal vir my die grootste voorreg wees as jy saamgesels en jou ervarings en gedagtes deel.
Daar lê nog ‘n lekker leerkurwe voor. Ek het nog baie om te leer. Vir nou, is dit egter goed genoeg. Skribbels is juis nie perfek genuanseerde gedagtes wat tot in die nouste besonderhede verfyn is nie. Daar is stories wat vra om vertel en gehoor te word, wat wil saampraat in die palimpses van die lewe soos verweef deur my en jou en ons almal se lewe.
Die droom is om gedagtes te deel, veral verwant aan stappies (veral in die berg), foto’s (as visuele versterking van my wedervaringe) en selfs ‘n afdeling oor dinge wat my hart gelukkig maak.
Kom ons skribbel so saam-saam en deurmekaar. In die lewe, skryf ons nie alleen nie – ons ís nie alleen nie.
Bergsig Stuur Ons Uit
Lees meer oor die projekte van die uitreik waarvoor Bergisig Gemeente ons uitgestuur het.
Saam op Reis
Skribbels word ook soms so saam-saam geskep. Kom lees wie stap saam met my!
My Storie
“As jou mond werk, staan jou hande stil,” het haar Pappa altyd sy dogtertjie met “so baie woorde” geterg. Stories is haar sielskos. Al beskou sy nie haarself noodwendig as die wêreld se grootste ekstrovert nie, is dit vir haar kosbaar om met mense in aanraking te kom, om te “connect”. Stories is ‘n medium hiervoor, maar so ook is lang stappies in die Outeniquaberge en slaaptydstories voorlees vir Emma.
Nadine is sedert 2007 getroud met haar matriekafskeid-“date”. Dertien jaar nadat hulle getroud is, is Emma Isabel Hamman in die hartjie van Covid-19 se Vlak 5-grendelstaat gebore. Tans woon hulle in die lieflike Tuinroete, Suid-Afrika waar die weer oor die algemeen “net reg” is, alhoewel almal tog te graag kla oor die “Cold and Wet”-weer (CAW) van George.
Haar inkomste verdien Nadine tans deur as ’n konsultant vir hoofsaaklik die Universiteit van Kaapstad te werk as ’n senior leerontwerper en kursusontwikkelaar. Dit is vir haar belangrik dat kursusse studente tuis moet laat voel en sy is ’n sterk voorstander vir mensgesentreerde leer en die pedagogie van omgee.
Daar is nie ‘n beskikbare datum waarop sy haar hart en lewe vir die Here gegee het nie, want Hy was en is nog altyd dáár. Dit is haar grootste begeerte om eendag voor Hom te kan staan en hoor dat haar lewe ‘n welriekende offer was vir Hom, ten spyte van al haar tekortkominge en uitdagings.
Proverbs 31:25 (NLT)
Sluit aan by die reisgeselskap
Ontvang die nuutste bloginskrywings via vonkpos. Ek deel graag my gedagtes en inspirerende oomblikke.